VRUGTE KOEKE – ‘n paar resepte – FRUIT CAKES
°ONGEBAKTE VRUGTE KOEK
2 pakkies Tennis of Marie beskuitjies
1 k kersies (gehalveer)
60 g droë vrugtekoek mengsel
50 g gekapte neute
1 blikkie kondensmelk
110 g botter
250 g sjokolade
2 t vanilla geursel
Metode:
Voer ‘n broodpan – 21×11 cm uit met kleefpapier (clingwrap) en spuit met kossproei.
Breek die beskuitjies in stukkies. Meng die kersies, vrugtekoek mengsel en gekapte neute saam in ‘n mengbak. Meng die kondensmelk, botter, sjokolade en vanilla geursel saam in ‘n kastrol en verhit tot gesmelt. Voeg die gebreekte koekies by en meng goed deur en skep in broodpan. Druk netjies plat en verkoel 2-3 ure. Haal uit pan met kleefpapier. Verwyder kleefpapier en sny in skywe.
°BIERBOKS VRUGTEKOEK
In bierboks gebak, resep het ek drie keer aangemaak. Koek het half vyf oond toe gegaan en half agt uitkom op 160°C.
250 gram dadels, gesny
500 gram vrugtekoekmengsel
1 koppie suiker
1 teelepel koeksoda
1 x 200 gram kersies
¼ pond botter (125 gram)
1 ½ koppies water
50 ml brandewyn
Metode.
Meng bogenoemde alles saam en kook vir 5 minute en laat afkoel.
Voeg by …
2 koppies koekmeel
1 eier
1 ½ teelepels bakpoeier
METODE:
Meng alles saam sommer in die kastrol by die vrugte en gooi invoorbereide koekpan van 20 cm.
Voer koekpan met bruinpapier uit, op bodem en kante en dan waspapier op bodem.
Bak vir ongeveer 2 ure.
Bak die eerste uur op 180°C en draai oond dan af na 140°C toe en bak dan verder tot toetspen skoon uitkom.
As uit oond kom, gooi so sopie brandewyn oor warm koek en laat in pan afkoel.
Die volgende dag haal uit koekpan en draai in foil toe, gooi weer sopie brandewyn oor.
WENK:
Om dadels makliker te sny, maak so 1 minuut op hoog warm in mikrogolf oond, haal net eers omhulsel af.
•Maklike Kerskoek Vir die Laatslapers
(Maak 1 vrugte brood)
250 ml botter – by kamertemperatuur
250 ml bruinsuiker
250 ml bruismeel
2 eiers
100 ml Griekse jogurt
100 ml Safari Rosyne & Cranberries
100 ml Safari Almond stukkies
100 ml glanskersies
100 ml wit sjokolade
‘n knippie sout
Maraschino kersies vir versiering
Metode
Verhit tot 170 C. Plaas die botter en suiker in die bak van jou elektriese menger en meng totdat dit lig en romerig is.
Voeg die eiers by en meng vir nog ‘n minuut of twee. Vou die jogurt in en laastens vou in al die ander droë bestanddele in. Skep in ‘n broodpan wat jy gevoer het met bakpapier.
Bak vir 35 – 40 minute of tot ‘n toetspen skoon die brood kom. Verwyder van die pan en bedien op ‘n bord of houtbord, sprinkel met versiersuiker en top met maraschino kersies.
°°Vrugtekoek Resepte Vir Kersfees
Heerlike 8 vrugtekoek resepte wat jy kan maak vir kersfees. Hierdie resepte is maklik en van hulle word sommer in die mikrogolf gemaak. Meeste van die vrugtekoek resepte bevat brandewyn.
°Vrugtekoek Kolwyntjies + Versiering
10 ml koeksoda
125 ml water
Vrugtekoek Kolwyntjies …
480 g (750 ml) droëvrugte-koekmengsel
250 ml dadels, fyngesny
50 ml kersies, fyngesny
125 ml brandewyn
5 ml vanieljegeursel
250 g (270 ml) botter
200 g (250 ml) suiker
2 eiers
280 g (500 ml) koekmeel
10 ml bakpoeier
knippie sout
Versiersel …
2 eierwitte
425 ml strooisuiker
knippie sout
knippie kremetart
50 ml water
Metode
Muffins …
Verhit oond tot 180 °C.
Meng koeksoda en water.
Voeg droëvrugte-koekmengsel, dadels, kersies, brandewyn en vanielje by.
Meng goed. Laat staan 30 minute.
Room botter en suiker met elektriese klitser in middelslag-mengbak.
Klits eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging.
Voeg vrugtemengsel by en meng goed.
Sif koekmeel, bakpoeier en sout oor vrugtemengsel en meng deur.
Spuit 12 holtes van ’n standaard-muffinpan met kleefwerende kossproei.
Skep holtes 2/3 vol beslag.
Bak 12 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.
Laat in pan afkoel en keer uit.
Skep lepels vol sneeuversiersel (resep volg) op elke kolwyntjie.
Versiering …
Klits al die bestanddele goed saam.
Plaas die mengsel oor ’n pot met kookwateren klits 7 minute lank met handklitser of tot mengsel dik word en stywe punte vorm.
Versier vrugtekolwyntjies (vorige resep) onmiddellik – die versiersel word gou hard en daar moet dus vinnig gewerk word.
Bind ’n mooi lint om elke kolwyntjie sodra die versiersel gestol het. Sit voor.
°Vrugtekoek Broodjie
500 ml (2 k) koekmeel
250 ml (1 k) suiker
10 ml (2 t) bakpoeier
7 ml (1½ t) fyn kaneel
2 ml (½ t) fyn naeltjies
2 ml (½ t) neutmuskaat
5 ml (1 t) fyn gemmer
5 ml (1 t) sout
250 ml (1 k) vrugtekoekmengsel
100 g rooi glanskersies, gehalveer
Vir Bak …
125 ml (½ k) melk
80 ml (1/3 k) olie
2 eiers
Metode:
Vir die bakmengsel: Meng alles baie goed en bêre in ’n lugdigte houer in die koskas.
Vir Bak …
Voorverhit die oond tot 180 °C. voer ’n broodpan van 9 x 19 cm met bakpapier uit en spuit met kossproei.
Skep die mengsel in ’n mengbak. Klits die melk, olie en eiers saam en voeg by die bakmengsel. meng goed en giet in die voorbereide broodpan.
Bak sowat 1 uur of tot ’n toetspen skoon uit die brood kom. Laat effens afkoel in die pan en keer dan op ’n draadrak uit om heeltemal af te koel.
°Maklike Vrugte koek Vir Kersfees
Kook die volgende saam …
1 koppie bruin suiker
125g botter/margarien…
1 koppie koue water
500g keurgraad vrugtige koekmengsel (beskikbaar by die bloubakkie)
Laat behoorlik afkoel.
Voeg 2 goedgeklitste eiers by mengsel.
Sif saam …
2 koppies bruismeel,
1 opgehoopte teelepel koeksoda
1 teelepel gemengde speserye saam
Roer by mengsel in.
Voeg by …
125g gesnyde kersies en
‘n ½ koppie brandewyn (whiskey, port) by mengsel.
Metode:
Voorverhit oond.
Voer ‘n koekpan met tinvoelie uit, gooi mengsel in en bak 1¼ uur by 150°C.
Versier met groenvye en glanskersies.
°Tjoklit Vrugtekoek
(Willie Strauss)
125 g botter
150 g bruinsuiker
100 g gesmelte donkersjokolade
125 mℓ sterk koffie
70 mℓ Van der Hum-likeur
50 mℓ Cape Velvet-likeur
100 g gemengde neute
400 g vrugtekoekmengsel
100 g gekerfde groen vye, waatlemoenstukke, ingelegde nartjiestukke en kersies, gemeng
30 mℓ kakaopoeier
200 g koekmeel
50 mℓ bruismeel
5 mℓ gemengde speserye
2 eiers, liggies geklits
Metode:
Voorverhit die oond tot 160°C.
Gebruik ‘n diep koekpan en onthou om die bodem met gesmeerde bakpapier uit te voer.
Klop die botter, suiker en kakao saam tot romerig.
Smelt die sjokolade en meng dit met koffie, Van der Hum- en Cape Velvet-likeur.
Gooi die koffiemengsel oor die vrugtekoekmengsel in ‘n groot mengbak.
Roer die neute en ander vrugte by.
Skep die bottermengsel by en meng deeglik.
Sif die koekmeel, bruismeel en gemengde speserye by en meng goed.
Voeg die liggies geklitste eiers laaste by en meng weer goed.
Skep die mengsel in die voorafbereide pan.
Bak vir ongeveer twee uur tot gaar.
Druk ‘n mes in die middel; as die lem skoon uitkom is die koek gaar.
Gooi nog Van der Hum-likeur oor sodra die koek uit die oond kom en laat dit in die pan afkoel.
Draai die koek in aluminiumfoelie toe en bêre dit vir minstens ‘n maand om goed ryp te word.
°Ryk & Maklike Vrugtekoek
2 1/2 koppies vrugtekoekmengsel met neute
1/2 koppie versuikerde sitrusskil
1½ k water
1 koppie suiker
250 g botter
1 t koeksoda
knippie sout
1 koppie volkoringmeel
1 koppie koekmeel
1 t bakpoeier
1 eier, geklits
Metode:
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Smeer ‘n middelslagkoekpan.
Kook die vrugtekoekmengsel, water, suiker, botter, koeksoda en sout vir 20 min. saam.
Laat afkoel, roer sitrusskil by.
Roer die meel, bakpoeier en eier in die vrugtemengsel.
Skep in die koekpan en bak vir 1 uur.
°Mikrogolf Vrugtekoek Muffins
500 g droëvrugtekoekmengsel
250 g dadels, fyn gekap
250 ml (1 k) sagte bruinsuiker
150 g botter, sag
250 ml (1 k) warm water
30 ml (2 e) kakao
10 ml (2 t) koeksoda
500 ml (2 k) bruismeel
5 ml (1 t) gemengde speserye
1 ml (¼ t) sout
3 ekstragroot eiers, geklits
150 ml brandewyn
250 ml (1 k) gemengde neute, grof gekap
100 g glanskersies, grof gekap
versiersuiker vir afronding
Metode:
Plaas die vrugtekoekmengsel, dadels, suiker, botter, water en kakao in ’n mikrogolfoondbak en plaas dit 4 minute in die mikrogolfoond. Roer goed en mikrogolf nog 4 minute.
Roer die koeksoda by en laat afkoel.
Sif die meel, gemengde speserye en sout en vou by die mengsel. Roer die eiers, brandewyn, neute en kersies by en skep die holtes van gespuite silikon-muffinpannetjies driekwart vol.
Bak 4 minute op ’n slag op hoog.
Herhaal met die res van die beslag. Stuif die versiersuiker oor.
°Mikrogolf Vrugtekoek Met Brandewyn
(Kaalvoet/Barefoot Chef)
125 g botter
500 g vrugtekoekmengsel
250 ml (1k) sagte bruin suiker
375 ml (1& 1/2k) water
5 ml (1 t) koeksoda
500 ml (2 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
10 ml kitskoffiepoeier
5 ml gemengde speserye
5 ml fyn gemmer
knippie sout
100 g glanskersies, in kwarte gesny
100 g amandels, gekap.
2 eiers, geklits
15 ml brandewyn.
Metode:
Spuit ‘n mikrogolf-ring-vorm van 2 liter met kleefwerende middel en voer uit met handdoek papier.
Plaas die botter, vrugtekoekmengsel, bruinsuiker, water en koeksoda in ‘n glasbak en mikrogolf vir 10 minute teen 100% krag, moenie roer nie.
Laat heeltemal afkoel (Baie belangrik anders bak die koek nie reg nie).
Sif die droe bestanddele saam en meng met die afgekoelde mengsel.
Voeg die res van die bestanddele by en meng goed.
Skep in die voorbereide ringvorm, plaas op ‘n omgekeerde piering of andersins ‘n eierdosie (in oond) en mikrogolf 20 minute lank teen 50% krag, daarna vir 7-10 minute lank teen 30% krag (ontdooi)
As die koek wegtrek van die kante , is dit reg.
Keer uit op ‘n draadrakkie en giet nog ‘n bietjie brandewyn oor wanneer
afgekoel.
Draai toe in tinfoelie en bere in ‘n lugdigte houer.
Lewer ‘n groot koek.
